- Kanker: ons belewenis, trane en oorwinning - 4 April 2021
Ons loop nou al vir die afgelope dekade saam met kanker in ons gesin. Ons daal soms baie laag. Ander kere rys ons baie hoog. Maar deurlopend is dit die God van Lewe wat konstant ons Reisgenoot is – om ons op te tel, moed te gee, te troos, en te herinner dat die lewe nie net gaan oor dié lewe nie. Hier is ‘n bietjie van ons storie.
In my kop draai droesels vol gedagtes oor meer as 20 familie en vriende wat ook hierdie paadjie moes stap. Mense naby aan ons; oupas, oumas, ooms, tannies, broers, susters, vriende. Sommige wat steeds leef, ander wat al Jubeldanse doen rondom die Troon van God.
Elkeen se diagnose dieselfde, maar tog so geheel en al anders… dis kanker!
Die diagnose wat waarskuwingsligte vir nog ‘n handvol jare bring. ‘n Hemelroep vir ander.
Maar vir ons, nooit ‘n doodsvonnis nie. Want Ons Here God is ‘n God van lewe, nie sterwe nie. Hy bepaal jou tyd op aarde, nie die kanker nie. Fanie (my man en kankerlyer) is so baldadig uitgesproke teen die frase “kanker het hom/haar se lewe ge-eis”. Neeeee, nogmaals nee! Dit is Sy wil alleen wanneer jy aan jou aardse lewe sterf. Ons glo mos soos daar in die Groot Boek geskryf is…
Jou tyd is bepaal voordat jy in jou Moederskoot gevorm is. – Jesaia 44:24 (Isaiah 44:24) en Jeremia 1:5 (Jeremiah 1:5)
Die eerste diagnose
22 Februarie 2010 verander ons twee se lewens in ‘n oogwink en gee ons die eerste persoonlike tree op Fanie, My Liefie, se pad met kanker.
‘n Pragtige dokter vanuit Afrika wat self die skandering doen, roep my eenkant toe en sê vir my dis kanker. Hy vra met sy hande saamgevou dat ek moet begin bid vir my man en kinders.
It is another type of cancer Mrs du Plessis. Be brave for your husband’s sake.
My Enigste, aiai.
Dit is Renal Cell Carsinoma en die nier en gewas word in takt verwyder deur ‘n dokter wat sigbaar nie die Here persoonlik ken nie.
Fanie worstel met hierdie volksvreemde dokter, na wie ek toe gaan en vir hom sê dat al ken hy dalk nie ons Genadige God nie, bid baie mense vir hom en die sukses van die operasie. Dieselfde dokter wat later erken daar moet Iemand “daarbo” wees wat baie van Fanie hou want dit is ‘n wonderwerk dat die diagnose gemaak is voordat die gewas stukkend gegaan het. Ons is gerus. Sy woorde van “in takt” bring gemoedsrus.
Die kankerpad saam met ander is nie vir ons vreemd nie, maar dis baie anders wanneer die diagnose swart op wit vir jou man bedien word. Baie anders.
Vir 8 jaar toets Fanie eers elke 6 maande en daarna elke 12 maande “skoon”. Die kanker is in resessie. Ons jubel en dans voor God. Hy is Goed en Genadig. Elke keer dank ons God die Vader vir sy Getroudheid, Genade en Barmhartigheid. Ons hou vas aan die Bybelse Beloftes en dink ewe windgat hoe spesiaal Fanie is. Die Here laaik hom kwaai.
Want sê die geleerdes nie dat as jy oor die 5 jaar merk is, is jou kop soort van deur nie?
Julie 2018 kry Fanie weer ‘n skoon verslag. Bloedtoetse, plate, sonars, geloofwaardige dokter….
Ons dans weer die Jubeldans maar beskou dit die keer soort van as vanselfsprekend. Die dans word korter, ons hou mekaar nie meer so styf vas nie want Fanie is mos deel van die 74% medies bewysde survivors van RCC wêreldwyd.
Aan myself: Ja ek praat van ons want geen kankerpasiënt moet alleen die kankerpad loop nie. Die marathon is ‘n gesinsaksie met die familie as deel van die kern span. Kanker kan en mag nie in ‘n gesin ‘n jou siekte wees nie.
Daardie jaar gaan drie van ons Mense Hemel toe. Die Here se Wil. Ons trane loop. Ons praat meer oor kanker in ons lewens as oor seks, kleinkinders, ons toekoms.
So berei die Here jou onwetend voor.
Die tweede diagnose
En toe kom Desember 2018. Daar is ‘n sigbare sagteweefselknop regs van Fanie se sluk. Die GP wil dit sommer uitsny maar ek hiperventileer en ons gaan na Dr Charl Cooper. Amper ‘n volle 9 jaar na die eerste diagnose.
Ons gaan weer vir sonars en plate. Die wind waai Kaapsedokter sterk toe ons by die hoofdeur van N1 Stad Netcare uitloop en ruk die verslag uit my hand. Ek buk, tel op, lees die gevreesde woorde raak:
“Carcinoma”.
“Verspreiding”.
Vir die tweede keer weet ek en besluit weer: Wag. Wees stil. Ken jou plek. Jy is ‘n huisvrou. Geen geleerde dokter nie. Ek bid dat ek verkeerd gelees het. Ek gaan stukkie vir stukkie ten gronde. My rots, my Liefie, my Sielsmaat… neee!!!
Maar God beskik.
Voor ons goeie vriend Dr. Cooper die uitslae aan ons oordra, sit hy met sy hande styf gevou en sy oë toe en ek weet…ek het reg gelees. En ek bid verwoed: Heer gee genade!
Charl stel ons voor aan Dokter John Sauer. Die eerste Onkoloog op die rowwe bergpad vol kinkels en draaie wat verlate onbekend en met ‘n donkerwolk voor ons lê. Die moedeloosgeit en ongeloof lê vlak. Die trane ongestort in ons harte. Die verspreiding is wyd en aggresief. Sonder behandeling 3-6 maande……
Maar Dokter Sauer glo onvoorwaardelik in God Drie-Enig en sê niks is onmoontlik onder leiding van die Heer as Hoofgeneesheer nie. Maar ons moet onthou dis kanker. ‘n Siekte met ‘n eie wil en sin.
Fanie gaan deur ‘n diep, diep gat van ontkenning. Hy loop ‘n voetesny, doringbesaaide, gruwelpad alleen maar eindelik tel die Heer hom op en dra hom tot by Blouberg se sagte, nat, seesand.
Ons huil saam, ons bid saam en toe breek die Lig deur.
Deel met die Gesin
Ek dink dis ’n mooi voorbeeld van Vaughan Gardiner se lirieke wat sê “eers as jy breek, kan die lig deur jou krake skyn”, want dis toe dat ek my selfvertroue terugwen. En besef, die kankerpad het baie fasette, maar stilbly, ontken, jok, halwe waarhede – hierdie kan nie deel van daardie fasette wees nie. Ander moet die pad saam loop, veral ons drie laat-dertigs volwasse kinders… Fanie was altyd die sagter een en wou dinge sagter stel as wat die eintlik was. ‘n Bietjie beskerm teen die nare waarheid, en hy sê vir my: “nee Christina!”. Dis die naam wat Fanie my soms noem, maar net as hy goed geroesde skroewe en moere in sy hart het en die moere verloor.
Maar ek bly hardkoppig, moeilik, stry, huil, pleit. Ons gaan die kinders alles moet vertel, te veel kans van verwyte en misverstande later. Hy gee toe maar in.
En ons as gesin begin die mooi loop. Nie altyd sóó mooi nie want elkeen van hulle ervaar dit geheel anders. Baklei anders. Huil anders. Maar bowenal Goddank ondersteun mekaar en hulle hou ons hande bo ons koppe. As hulle lekker baklei oor goeters is dit ook reg. Gelukkig weet ons twee oues nie van alles nie. Weer ‘n stuk Hemelse genade.
Ek hou dagboek van elke doktersbesoek. Ek beleef Fanie as ‘n robot. Sy lyf is daar, sy kop ver weg.
Na elke afspraak in die eerste jaar, totdat die dokters ‘n ritme kon vind met die behandeling, gee ek punt vir punt terugvoering aan al drie ons kinders. Van oud na jonk. Met Fanie aan my sy.
Ek merk dit af van ‘n lys soos ‘n robot dat; ek wil geen besprekingspunt van die dokter oorslaan nie. Nou, as ek daaraan terugdink, was dit waar Fanie dalk perspektief gekry het. En waarheen hy kon teruggaan sou hy onseker voel oor ‘n diagnose. Want die spreekkamer self was nie vir my Liefie ‘n positiewe ervaring nie, ten spyte van die feit dat hy meesterlike Dokters gehad het.
Die kanker versprei
Die groot scan wys die kanker is aggresief, wyd versprei, oral waar ons nie wil hê dit moet wees nie maar ons klou vas soos Eugene Marais aan die frase:
“So wyd as die Heer se genade…”
En weet, Psalm 118:29 is waar!!
“Loof die Here, want Hy is goed, aan Sy liefde is daar geen einde nie.”
Vir hierdie tipe kanker is daar nie ‘n pad van bestraling of chemo wat die pasiënt kan loop nie. Skielik klink chemo nie so erg nie, al weet jy wat dit al in die verlede aan ander geliefdes se lewens gedoen het. Grashalms in die wind….
Ons word voorgestel aan alternatiewe opsies, en nee, asseblief, dit is nie CBD olie, daggablare, bugu, kankerbossie, wildeaartappel of knoffel nie.
Dit is ‘n metode wat net pille insluit. In kort, ons verstaan niks daarvan nie, maar het vrede gemaak dat ons onkoloog wel sal weet. Ons glo en vertrou ons dokter. Alternatiewelik moet ons liewers alle behandeling staak. As ons hom nie kan vertrou wat al die pad met duisende pasiënte geloop het nie, vir watter aardse redes moet ons dagga vertrou?
Fanie word jaloersmooi grys van die eerste sessie pille. Almal vra “oh, hoe kom jy aan die bos pragtige hare wat in 3 weke verkleur” en dan sê hy, ewe cheeky, “kanker!!”
As ons in daardie tyd R5 gekry het vir elke alternatiewe aanbieding van pille, stropies, blare en zolle het ons beslis genoeg gemaak om enige toekomstige behandeling kontant te betaal. En besef die mens se onkunde oor die siekte laat hom bangspronge in die donker maak. Laat hom na grashalms gryp in plaas van vertroue in God en die mediese wetenskap.
Want ja, die ander wit olifant in die huis is die koste van kankerbehandeling. Dis duur. My Pa sou sê blêddie duur. Maar ons gaan voort daarmee. Vier maandelikse scan wys die kanker groei steeds en dit versprei na ander organe en plekke. Aggresief die outjie….
Maar Fanie het ‘n teorie oor Vriendskap. (Hieroor bietjie later.)
Emosionele verwerking
En kyk, soms word ons onredelik de dônner in vir die siekte. Ons huil, ons baklei, ons is in ‘n weet-nie-meer-hoe-nie patroon. Ons vra hoekom ons? Hoekom nou? Ons is glad nie reg vir aftree nie, nie finansieël of emosioneel nie. Genade ons is nog 60 plus jonk! Ons het die wonderbaarsde sewe Kleinkinders en een oppad. Ons dink aan almal wat ons al verloor het aan die aaklige siekte. Maak ‘n balansstaat op. Minder lewe as wat oorleef het.
Ons luister een Sondagoggend na Johan Geyser op Kyknet.
Fanie kom tot die besluit.
Kanker word sy vriend, nie sy vyand nie. Genade waarom? Dit is en bly kanker, is my eerste reaksie. Is jy van jouse kopaf?
En my Wyse Lief verduidelik.
Kanker jou Vriend
As iets jou vyand is, vernietig dit jou. Jy bly in konstante konflik. Jou lewe bly versuur. Jy bly baklei. Ongelukkig. Onverdraagsaam. Jy noem dit lelike name. Jy word lelik om mee saam te leef.
Maar daarteenoor, as iemand jou vriend is, is daar meer gereeld kalmte, kamaraadskap, oplossings, lag, vreugdevolle saam huil en baie hartseer tye, maar daar is VREDE. Die tipe vrede waarvan ons in die Bybel leer.
Fillipense 4:7 (Philippians 4:7) en Efesiers 3:19 (Ephesians 3:19)
My Lief sê vir ‘n vriend (soos die kanker) mag jy jou gat wip. Jy mag verskil, argumenteer, kwaad wees vir dae. Maar dan breek die son deur en jy weet: Hierdie vriend van jou gaan nerens heen nie. Jy is stuck met hom, jy moet leer om dit te hanteer, saam te leef maar heel belangrikste, vrede daarmee te maak. Weer en nogmaals 7X7 keer soos Jesus ons in die Groot Boek, ons Bybel, Rigsnoer en Kompas leer.
En 1 Petrus 5:10 (1 Peter 5:10) word ‘n rigting gewende vers.
Ons leer Ronel Grobler ken. Maatskaplike Werkster by N1 stad. Ons gesels ‘n hond uit ‘n bos uit en eendag, oor ‘n half koue koppie take-away koffie besef ons: die Here gee meer as wat Hy neem want hier is ‘n lewenslange aangenome dogter en haar gesin wat cheerleaders word saam met ons eie ses kinders en en toe al 8 kleinkinders. Op hierdie pad met sy baie seer maar meer Lig en Vrede as wat ons verdien.
Nuwe hoofstuk in Vanderbijl
Augustus 2019 maak ons ‘n lewensveranderde keuse en koop in vuil Vanderbijl Lewensreg in ‘n aftree-oord. Wonderbare vriendskappe word gesluit, ‘n siekeboeg op hande en ons twee meisiekinders op ons voorstoep. Wat ‘n bederf. Die Heer gee ons ‘n ander doel by.
Ons pak en trek daardie Oktober. Binne ‘n maand koop ons, verkoop ons en na nog ‘n maand is ons hele lewe ingepak vir ‘n 1 slaapkamer en enkelgarage pophuis in Die Palms.
Nou is dit weer nuwe onkoloog en mediese personeel. Ons is verwys na ‘n dokter by Midsteam. Sy doen ‘n scan en die uitslae slaan hard. Die kanker het gegroei. En toe kom COVID.
En Fanie moet alleen gaan vir afsprake. Elke keer kom hy met dowwer oë uit die Spreekkamer. Want 2 introvert mense en kanker is ‘n groot ramp wat wag om te gebeur. Geen kommunikasie nie. Geen positiwiteit nie. Ons verander weer van onkoloog. Derde opinie in minder as 2 jaar. En die moedeloosgeite lê warm gebak soos geitjies in die warm Transvaalse son.
Maar die Here gee weer Woord: Lees gerus Jesaja 45:11 (Isaiah 45:11).
Ondersteuning en terapie
Dokter Fourie word nou die onkoloog. Warm glimlag, sagte oë. ‘n Verstaan-kyk wat deur jou siel en hart kyk en weet. Ek beleef hy weet: Hier het ek meer as net feite nodig met hierdie nuwe pasient van my. Sy sagte oë en plooitjies-lag bemoedig en troos so saam-saam. Die pasiënt en onkoloog moet “gel”.
En dis weer ‘n groot scan. En weer het die kanker gegroei. En weer is dit nuwe pille. Maar ons vat dit. Met albei hande en sê weer Vriend, jy gaan nog jou gaai sien.
Hierdie pille tas weer Fanie se voete aan soos in 2019. Maar gelukkig is daar nou ‘n 2 weke rus period tussen elke 28 dae se behandeling en Fanie kry rus, kry sy battery gelaai en hy kry tyd om produktief saam sy kinders en kleinkinders te wees en werk weer gereeld met sy hande.
Want terapie is ‘n sleutelwoord in hierdie wedloop. Vir elkeen verskil dit. Deur God se Genade is Fanie nie te veel depressief nie. Sy kleinkinders hou hom uit daardie donker put. Sy vermoeë om planne te maak, uitdagings te bowe te kom is meesterlik.
Maar ook in 2020 kry ons die nuus. Ons geliefde Oom Sias het kanker. En hulle word geswore Partners in Crime. Hulle entoesiasme is verstommend. Die een so hardegat soos die ander. “Nee, verstaan my mooi, ek is nie siek nie. Ek het net kanker” word die twee se keuse en leuse.
Die band wat hul verder vorm Wonderbaar.
En dit is weer ‘n belangrike lewensles. Moenie jou of jou lewensmaat met kanker afsonder van ander kankerleiers nie. Want hulle is mekaar se ondersteuners, liefdegewers, mekaar se steunpilare. Hulle weet hoe om kankerpositief te wees al loop die trane strepe teen hul wange af.
Anker teen die storms
En Januarie 2021 weer ‘n groot scan by Fanie. Die kanker verklein nie, het verder versprei. En steeds staan ons soos Melkhoutbome geanker teen die Winde van Veranderinge. Mag ons nie knak nie. Nie noodwendig regop staan nie. Maar vir mekaar ‘n lêplek gee op af dae. Want God ons Geneesheer se pad en tyd is nie ons s’n nie.
Moet vir geen oomblik dink ons twee is hierdie engele wat net glimlag en waai soos Madagaskar se seilstoel pikkewyne nie.
Nee asseblief, ons is net mense. Ons verskil, ons stry, wip ons gereeld vir mekaar, ons huil apart en saam met mekaar. Maar bowenal is ons vriende, ons maak op en dank God vir genade, barmhartigheid en vrede.
Ons besef die noodsaaklikheid van musiekterapie en luister baie musiek. Ons lys is nie ‘n Vat 5 van Derrick Gardiner nie. Dit is ons Vat 500. Ons kan letterlik aande om lê en saam huil en luister en lag en terugloop op die pad van onthou as ons stil word en luister na note en lirieke wat Jesus Christus vir ons gekies het.
En dan Jannie du Toit se Eggo van jou oë.
Want ek as saamloopmaat moet iewers ‘n manier soek, kry en styf vashou waarin ek kan sien as die ellende vlak en seer lê by My Lief.
En by ons is dit Fanie se oë. Letterlik die venster van sy siel. Maar jy moet weer soos in Sub A begin leer hoe om dit te interpreteer. Wat regtig in hom aangaan. Want jy moet ‘n manier kry om te verstaan.
Fanie vra dat mense vir ons sal bid maar sê graag vir hulle om versigtig te bid! Want vra jy hy moet gesond word, sit hy dalk more aan Ons Vader se voete. Want as die kanker so wyd lê kan Hemel toe gaan dalk al geneesmiddel wees.
Maar vir nou is deel 1 van ons storie eers klaar.
Ons loop tans saam met Sias en familie, die onbekende laaste deel van die aardse reis op die terminale pad. Dis altyd ‘n uitdaging wat verskillend deur almal in die gesin hanteer en bestuur word.
Fanie se Partner in Crime se verstand is helder maar sy lyf moeg.
Ons Liefie Oom se hart behoort volkome aan Jesus Christus, Ons Vader. Oom Sias het ‘n geluksaligheid oor die einde van sy aardse pad en sien uit om Hemel toe te gaan. Op God alleen se tyd.
Want hy, soos Fanie vra elke keer: Bid Luk 11:2
En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat U koninkryk kom; laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde”. – Luk 11:2
Gegroet. Mooi loop. In die velle son, onder die sterre hemel maar altyd in die Genade van Sy Wil.
Dankie vir die deel Chrizane. Mag die Here se groot genade sigbaar wees in jul lewens.
Sjoe … hierdie is so eerlik, opreg … en daarom aangeypend en roerend. Ons ken nie mekaar se koppe nie en ons ken nie mekaar se harte en waar wlkeen se gedagtes loop en draai nie … en dan lees jy ‘n belewenis en belydenis soos die.
Ek het amper nie woorde nie. Ek kan net sê “… mag ons God van genade en liefde julle toevou en vashou en dra vir elke treë van hierdie pad …..” In ons harte en gedagtes bid ons vir julle elkeen die krag van Sy genade.
Wat ń voorreg om dit te kan lees en ook nou hier in Palms hierdie pad saam met julle te kan stap. Julle hantering hiervan is ń voorbeeld vir so baie van ons. Ons bid saam
Wat ‘n inspirasie om hierdie deel te lees! Jy en Fanie kan ‘n “geloofsboek” publiseer, na al die paaie, waarop julle al geloop het… Ons weet dat Fanie se belewing en getuienis, vir elkeen van ons, met of sonder “siekte” ‘n riglyn is vir ons lewenspad wat enige tyd kan verander. Ons dink altyd aan julle!